Professionele Taaldienste en Sagteware
Professionele Woordeboekmaak-oplossings
Maatskappyprofiel
TshwaneDJe spesialiseer in die ontwikkeling van hoëgehalte-gereedskap om taalinhoud te bestuur. Die TshwaneLex-Woordeboekstelsel is vinnig besig om in die bedryf sy plek te verower as die standaardwerkbank vir die saamstel van woordeboeke. Ons bied ook professionele taaldienste soos vertaling, redigering en proeflees. Ons beskik oor net die beste taalpraktisyns en ons vertalings is van top gehalte.
Onder die gebruikers tel Oxford University Press, Pearson Education, Longman, Macmillan, Van Dale, Le Robert, die Spaanse Koninklike Geneeskunde-akademie, Grupo Clarín in Argentinië, die Walliese Taalraad, die Kanadese Departement van Justisie, die Instituut vir Taal- en Letterkunde in Maleisië, die Instituut vir Nederlandse Leksikologie, en nog meer.
Die maatskappy het sy groei te danke aan ’n volgehoue fokus op professionaliteit, sy strewe na wêreldklasgehalte en die lewering van ’n stewige opbrengs op belegging aan kliënte.
Ander produkte en dienste omvat terminologiebestuur-sagteware, gereedskap vir vertalers, data-omskakeling, tegniese steun en opleiding, asook tlDatabase, ’n gebruiksvriendelike databasis-redigeerder.
Die TshwaneLex-Woordeboekstelsel
TshwaneLex is ’n pasklaar, professionele, gebruikersvriendelike sagteware-hulpmiddel wat ten volle aanpasbaar is vir die saamstel van woordeboeke van alle soorte. Dit verkort die woordeboekproduksietyd en stel die woordeboekmaker in staat om die kwaliteit en konsekwentheid van sy/haar woordeboeke te verhoog.
Onder die kenmerke tel ’n geïntegreerde korpus-raadpleegstelsel, reëletyd-voorskou, gevorderde stylmoontlikhede, “slim” kruisverwysings, outomatiese omkering van inskrywings, outomatiese nommering en sortering, uitvoer na MS Word, InDesign en Quark, en multigebruikersteun vir doeltreffende werkvloeibestuur. TshwaneLex kan prakties al die tale van die wêreld hanteer en is op die bedryfstandaard XML gegrond.
Elektroniese Woordeboek-publikasiestelsel
Die volledige, kostedoeltreffende oplossing om jou woordeboek op CD-ROM of as ’n aflaaibare produk op die internet te publiseer, met al die funksionaliteit van ’n moderne, gebruikersvriendelike elektroniese woordeboek én ten volle aanpasbaar om te lyk soos jy wil hê dit moet.
Onder die kenmerke tel integrasie met Microsoft Word, ’n vertaalbare koppelvlak, beskerming teen roofgebruik en beeld- en klankondersteuning.
Aanlyn Woordeboek-publikasiestelsel
Met hierdie stelsel word woordeboeke en termlyste op die internet gepubliseer sodat gebruikers dit in hul webblaaiers kan raadpleeg. Die allesomvattende diens sluit die opsionele plasing in van die woordeboek op jou eie webtuiste, waar dit vir jou bestuur en bygewerk kan word.
Onder die kenmerke tel ’n gesofistikeerde opgawe van soektogte met waardevolle statistieke vir woordeboekmakers, soos ’n lys van hoëfrekwensie-soektogte wat geen trefslae lewer nie, omdat die soekwoorde (nog) nie in die woordeboek opgeneem is nie.
tlTerm: Terminologie-bestuur en vertaling
tlTerm is ’n pasklaar, gebruikersvriendelike sagteware-hulpmiddel vir die saamstel en bestuur van termlyste.
Onder die kenmerke tel ondersteuning van feitlik elke taal, ’n geïntegreerde korpus-raadpleegstelsel, gevorderde soekfunksies, kitsopstelling vir een of meer gebruikers, TBX- en TMX-steun, en integrasie met Microsoft Word.
tlDatabase: Databasis-sagteware
tlDatabase is ’n gebruikersvriendelike databasis-redigeerder waarmee jy maklik en vinnig aan enige soort taalinhoud struktuur kan gee.
Onder die kenmerke tel “sjablone vir beginners”, wat jou dadelik aan die gang sal kry, volledige aanpasbaarheid, ’n stelsel vir verskillende gebruikers met verskillende gebruiksregte, gevorderde stylmoontlikhede en ’n geïntegreerde skriptaal. tlDatabase in ten volle geïnternasionaliseer met XML as basis.